Monday, November 11, 2013

Wat Jy Moet Weet - Voordat Jy Met 'n Hoë Proteiendieet Begin

Ek weet wat jy dink.
Mense verloor so goed gewig op hoë proteiendiete. En wie sal nou nee sê vir spek en eiers elke oggend? So jy dink natuurlik jy kan dadelik inspring omdat dit so maklik klink. Kom ons verstaan mekaar mooi - GEEN dieet is maklik nie en hierdie een ook nie. Hier is 'n paar goedjies wat julle moet weet voordat julle met 'n Hoe Proteiendieet begin:


  1. Jy moet bereid wees om te commit. Soos met enige dieet, moet jou "kop reg wees" voordat jy begin. En dit is veral belangrik op hierdie tipe dieet. Jy gaan nou jou koolhidrate tot die minimum moet beperk. Dit vat 24-48 uur vir koolhidrate om uit jou liggaam te verdwyn, dus as jy slegs EEN koekie in jou mond druk, sit jy jouself en jou gewigsverlies terug met tot 48 uur. Dit is twee dae van oor begin, weer beplan, hoofpyne... So as jy voor jou siel weet dat jy nie daardie koekie of sny brood kan los nie, moenie eers probeer nie - kies dan eerder 'n dieet wat nie so 'n vreeslike uitwerking op 'n koolhidraat-kroek het nie.
  2. Jy moet van eiers hou! Eiers vorm die stapelkos van enige Hoë Proteiendieet. Of dit nou roereiers, gebakte eiers of souttert is - jy gaan baie eiers eet. As jy nie van eiers hou nie, het jy 'n probleem. Dit is wel moontlik, maar dis bitter moeilik.
  3. Hierdie dieet is nie vir vegetarieërs nie! Dr Atkins het self gesê hy stel nie die dieet voor vir vegetarieërs nie - vir die eenvoudige rede dat daar net nie genoeg variasie in die dieet is as jy nie vleis eet nie.
  4. Gaan sien 'n dokter! Voordat jy met enige dieet of oefenprogram begin, moet jy regtig 'n draai by die dokter gaan maak om jou die "go ahead" te gee. Ek kan self getuig dat my cholesterol redelik hoog was en ses weke op Atkins het dit 'n hele paar punte laat sak. My bloedsuiker het baie verbeter. My raad is om ten minste jou cholesterol en bloedsuiker te laat toets voordat jy met die dieet begin. Ek sou nooit so 'n drastiese dieet aanpak sonder die ondersteuning en toestemming van my dokter nie, want as jy dit verkeerd doen kan dit gevaarlik wees.
  5. Jy kan dit laevet ook doen! Atkins en die meeste hoë proteiendiete sê mens moenie vet uitsny nie, maar as jy 'n geskiedenis van cholesterol of hartprobleme het, sal ek jou ernstig aanraai om eerder LAER vet te gaan as te veel vet.Let wel ek sê nie GEEN vet nie - jy het die vet nodig vir energieverbranding! Dis een van die beginsels waarop die dieet rus. Maar daar is die ander kant ook - jou liggaam het vet nodig vir energieverbranding, maar jy wil nie soveel vet inneem dat jou liggaam net heeltyd vet die verbrand wat jy eet nie, en nooit by jou eie liggaamsvet uitkom nie! My voorstel is om alle sigbare vet te verwyder, byvoorbeeld die vet aan daai skaaptjoppie of die hoender se vel. Meeste vleis het steeds baie vet in, soos spek, hoenderdytjies en boudjies, asook vis soos snoek. Sny dus net die ooglopende vet uit. Dis die raad wat ek van my endokrinoloog gekry het.

Wat Jy Moet Weet - Hoe Werk 'n Hoë Proteiendieet?

Jy mag dalk gehoor het dat mense wat op hoe proteiendiete is, uitstekende gewigsverlies ervaar - en ja, dit is werklik so. Toe ek die eerste keer van die dieet gehoor het, was ek maar skepties. Ek het grootgeword toe "gebalanseerde diete" vir almal ingeprent is - en "gebalanseerd" het beteken baie koolhidrate, min vleis en nog minder vet. Ek was verstom - hoe kan mense so baie gewig op hierdie dieet verloor en nog steeds so lekker eet? Die hele geheim van 'n hoë proteiendieet is in die werking daarvan - hoe die proteiene en jou liggaam met mekaar gesels, en wat gebeur in die afwesigheid van koolhidrate. 

Kom ek verduidelik dit vir julle soos wat ek dit verstaan. (Baby steps!)

Soos meeste van julle seker weet, kry jou liggaam sy energie uit die kos wat ons eet. Nou die meeste mense eet 'n (dikwels baie ongesonde) kombinasie van koolhidrate, vette, proteiene, groentes en vrugte. Meeste van ons weet ook dat 'n dieet hoog in vet ongesond is vir jou, en dat dit aanleiding gee tot hartkwale en allerhande ander onaangenaamhede. Meeste van ons weet ook dat ons liggaam se hoofbron van energie glukose is, wat afkomstig is van koolhidrate. Meeste van ons weet ook dat koolhidrate voedsel is wat stysel en suiker bevat - rys, aarappels, vrugte, lekkers, sjokolade, brood, ontbytpap, koek en nog vele meer!

Wat die meeste van julle dalk nie weet nie, is wat presies in jou liggaam gebeur as jy koolhidrate inneem. Nou 'n gedeelte van daai suiker wat jy in koolhidrate kry, word gebruik vir energieverbranding - dus om ons liggame aan die gang te hou en ons brein aan die werk te hou. MAAR, dis slegs 'n klein gedeelte van daai suiker wat gebruik word, en die ongelukkige waarheid is, meeste van ons eet hopeloos te veel koolhidrate en voorsien ons liggame van hopeloos te veel suiker. Dit gee op die lang duur weer ander probleme soos diabetes, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Wat gebeur met hierdie oortollige glukose wat nie gebruik word vir energie nie? Dit gaan sit op jou maag en op jou heupe en op jou boude en word daar gestoor as VET!!!

Maar nou die ding wat baie mense NIE weet nie, is dat ons liggame nie net koolhidrate of suikers kan gebruik vir energie nie - ons kan ook vet gebruik vir energie. (Inteendeel, daar is drie bronne wat die liggaam vir energie kan gebruik - glukose, vet en alkohol - maar laasgenoemde sal ek nie aanbeveel nie!). Wanneer jou liggaam vet gebruik vir energie is dit 'n proses wat Dr Robert Atkins "lipolysis" noem - "the process of burning fat for energy". En dit is presies net wat dit is - jou liggaam gebruik nou die vet wat jy inneem, en later ook jou eie liggaamsvet, en verbrand dit vir energie. En wat gebeur as jou liggaam sy eie vet verbrand as energie? ONS WORD MAER!!!

Dit is dan ook hier waar die volgende woord inkom waarvan julle seker gehoor het - KETOSE. Ketose verwys basies na die toestand waarin jou liggaam verkeer wanneer hy vet vir energie verbrand. Wanneer jou liggaam in ketose is, stel jy ketone vry - jy het seker al gehoor dat mens dit met 'n urienetoets kan sien of party mense sê hulle asems ryk anders? Dit is doodnatuurlik en 'n nagevolg van ketose, of vetverbranding. Dit is presies net waar jy wil wees.

In realiteit het jy jou liggaam 'n totale "u-turn" laat doen - dit verbrand nie meer glukose vir energie nie, maar vet. Dr Atkins stel dit so mooi: "If you are not in lipolysis, you're in glucosis" - en dit is presies wat dit is - jy kan nie in albei toestande wees nie. Jou liggaam kan nie vet EN glukose verbrand vir energie nie, dis een of die ander. As jy op 'n laevet dieet is, dan verbrand jou liggaam glukose wat jy van koolhidrate kry, maar dikwels neem jy nog steeds te veel koolhidrate op hierdie tipe dieet in, wat gewigsverlies stadig of geen maak. As jy op 'n hoë proteiendieet is, verbrand jou liggaam vet vir energie. Sodra jy weer koolhidrate begin inneem, gaan jou liggaam terugkeer na glukose verbrand vir energie en wat gebeur as ons te veel daarvan het? ONS WORD VET!!!

Ek hoop julle verstaan nou bietjie meer van hoe 'n hoë proteindieet werk. Ons sal later in nog meer detail daarop ingaan, maar dis sommer net kortliks vir 'n inleiding.

Wat Is 'n Hoë Proteiendieet?



'n Hoë proteiendieet is basies een wat bestaan uit baie proteiene en baie min koolhidrate. Sommige mense verwys daarna as lae-koolhidraat diete (LowCarb). Terwyl hierdie tipe dieet bekend gemaak is deur Atkins, het daar sedertdien 'n hele paar weergawes van dit te voorskyn gekom. Diete soos Paleo, South Beach en die Ketoniese dieet is almal eetplanne waar die inname van koolhidrate drasties verminder word, terwyl die inname van proteiene drasties vermeerder word.

Wanneer jy op 'n hoe proteiendieet is, eet jy grotendeels vleis, vis en seekos, eiers en kaas. Jy kan gesonde vette inneem, asook neute. Sommige groentes word ook toegelaat. Jy mag egter nie enige styselryke groente, meelprodukte en vrugte een gedurende die eerste fase van die dieet nie. As jy dus kan saamleef met spek en eiers vir ontbyt is hierdie dieet vir jou!