Monday, November 11, 2013

Wat Jy Moet Weet - Voordat Jy Met 'n Hoë Proteiendieet Begin

Ek weet wat jy dink.
Mense verloor so goed gewig op hoë proteiendiete. En wie sal nou nee sê vir spek en eiers elke oggend? So jy dink natuurlik jy kan dadelik inspring omdat dit so maklik klink. Kom ons verstaan mekaar mooi - GEEN dieet is maklik nie en hierdie een ook nie. Hier is 'n paar goedjies wat julle moet weet voordat julle met 'n Hoe Proteiendieet begin:


  1. Jy moet bereid wees om te commit. Soos met enige dieet, moet jou "kop reg wees" voordat jy begin. En dit is veral belangrik op hierdie tipe dieet. Jy gaan nou jou koolhidrate tot die minimum moet beperk. Dit vat 24-48 uur vir koolhidrate om uit jou liggaam te verdwyn, dus as jy slegs EEN koekie in jou mond druk, sit jy jouself en jou gewigsverlies terug met tot 48 uur. Dit is twee dae van oor begin, weer beplan, hoofpyne... So as jy voor jou siel weet dat jy nie daardie koekie of sny brood kan los nie, moenie eers probeer nie - kies dan eerder 'n dieet wat nie so 'n vreeslike uitwerking op 'n koolhidraat-kroek het nie.
  2. Jy moet van eiers hou! Eiers vorm die stapelkos van enige Hoë Proteiendieet. Of dit nou roereiers, gebakte eiers of souttert is - jy gaan baie eiers eet. As jy nie van eiers hou nie, het jy 'n probleem. Dit is wel moontlik, maar dis bitter moeilik.
  3. Hierdie dieet is nie vir vegetarieërs nie! Dr Atkins het self gesê hy stel nie die dieet voor vir vegetarieërs nie - vir die eenvoudige rede dat daar net nie genoeg variasie in die dieet is as jy nie vleis eet nie.
  4. Gaan sien 'n dokter! Voordat jy met enige dieet of oefenprogram begin, moet jy regtig 'n draai by die dokter gaan maak om jou die "go ahead" te gee. Ek kan self getuig dat my cholesterol redelik hoog was en ses weke op Atkins het dit 'n hele paar punte laat sak. My bloedsuiker het baie verbeter. My raad is om ten minste jou cholesterol en bloedsuiker te laat toets voordat jy met die dieet begin. Ek sou nooit so 'n drastiese dieet aanpak sonder die ondersteuning en toestemming van my dokter nie, want as jy dit verkeerd doen kan dit gevaarlik wees.
  5. Jy kan dit laevet ook doen! Atkins en die meeste hoë proteiendiete sê mens moenie vet uitsny nie, maar as jy 'n geskiedenis van cholesterol of hartprobleme het, sal ek jou ernstig aanraai om eerder LAER vet te gaan as te veel vet.Let wel ek sê nie GEEN vet nie - jy het die vet nodig vir energieverbranding! Dis een van die beginsels waarop die dieet rus. Maar daar is die ander kant ook - jou liggaam het vet nodig vir energieverbranding, maar jy wil nie soveel vet inneem dat jou liggaam net heeltyd vet die verbrand wat jy eet nie, en nooit by jou eie liggaamsvet uitkom nie! My voorstel is om alle sigbare vet te verwyder, byvoorbeeld die vet aan daai skaaptjoppie of die hoender se vel. Meeste vleis het steeds baie vet in, soos spek, hoenderdytjies en boudjies, asook vis soos snoek. Sny dus net die ooglopende vet uit. Dis die raad wat ek van my endokrinoloog gekry het.

No comments:

Post a Comment