Monday, November 11, 2013

Wat Jy Moet Weet - Hoe Werk 'n Hoë Proteiendieet?

Jy mag dalk gehoor het dat mense wat op hoe proteiendiete is, uitstekende gewigsverlies ervaar - en ja, dit is werklik so. Toe ek die eerste keer van die dieet gehoor het, was ek maar skepties. Ek het grootgeword toe "gebalanseerde diete" vir almal ingeprent is - en "gebalanseerd" het beteken baie koolhidrate, min vleis en nog minder vet. Ek was verstom - hoe kan mense so baie gewig op hierdie dieet verloor en nog steeds so lekker eet? Die hele geheim van 'n hoë proteiendieet is in die werking daarvan - hoe die proteiene en jou liggaam met mekaar gesels, en wat gebeur in die afwesigheid van koolhidrate. 

Kom ek verduidelik dit vir julle soos wat ek dit verstaan. (Baby steps!)

Soos meeste van julle seker weet, kry jou liggaam sy energie uit die kos wat ons eet. Nou die meeste mense eet 'n (dikwels baie ongesonde) kombinasie van koolhidrate, vette, proteiene, groentes en vrugte. Meeste van ons weet ook dat 'n dieet hoog in vet ongesond is vir jou, en dat dit aanleiding gee tot hartkwale en allerhande ander onaangenaamhede. Meeste van ons weet ook dat ons liggaam se hoofbron van energie glukose is, wat afkomstig is van koolhidrate. Meeste van ons weet ook dat koolhidrate voedsel is wat stysel en suiker bevat - rys, aarappels, vrugte, lekkers, sjokolade, brood, ontbytpap, koek en nog vele meer!

Wat die meeste van julle dalk nie weet nie, is wat presies in jou liggaam gebeur as jy koolhidrate inneem. Nou 'n gedeelte van daai suiker wat jy in koolhidrate kry, word gebruik vir energieverbranding - dus om ons liggame aan die gang te hou en ons brein aan die werk te hou. MAAR, dis slegs 'n klein gedeelte van daai suiker wat gebruik word, en die ongelukkige waarheid is, meeste van ons eet hopeloos te veel koolhidrate en voorsien ons liggame van hopeloos te veel suiker. Dit gee op die lang duur weer ander probleme soos diabetes, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Wat gebeur met hierdie oortollige glukose wat nie gebruik word vir energie nie? Dit gaan sit op jou maag en op jou heupe en op jou boude en word daar gestoor as VET!!!

Maar nou die ding wat baie mense NIE weet nie, is dat ons liggame nie net koolhidrate of suikers kan gebruik vir energie nie - ons kan ook vet gebruik vir energie. (Inteendeel, daar is drie bronne wat die liggaam vir energie kan gebruik - glukose, vet en alkohol - maar laasgenoemde sal ek nie aanbeveel nie!). Wanneer jou liggaam vet gebruik vir energie is dit 'n proses wat Dr Robert Atkins "lipolysis" noem - "the process of burning fat for energy". En dit is presies net wat dit is - jou liggaam gebruik nou die vet wat jy inneem, en later ook jou eie liggaamsvet, en verbrand dit vir energie. En wat gebeur as jou liggaam sy eie vet verbrand as energie? ONS WORD MAER!!!

Dit is dan ook hier waar die volgende woord inkom waarvan julle seker gehoor het - KETOSE. Ketose verwys basies na die toestand waarin jou liggaam verkeer wanneer hy vet vir energie verbrand. Wanneer jou liggaam in ketose is, stel jy ketone vry - jy het seker al gehoor dat mens dit met 'n urienetoets kan sien of party mense sê hulle asems ryk anders? Dit is doodnatuurlik en 'n nagevolg van ketose, of vetverbranding. Dit is presies net waar jy wil wees.

In realiteit het jy jou liggaam 'n totale "u-turn" laat doen - dit verbrand nie meer glukose vir energie nie, maar vet. Dr Atkins stel dit so mooi: "If you are not in lipolysis, you're in glucosis" - en dit is presies wat dit is - jy kan nie in albei toestande wees nie. Jou liggaam kan nie vet EN glukose verbrand vir energie nie, dis een of die ander. As jy op 'n laevet dieet is, dan verbrand jou liggaam glukose wat jy van koolhidrate kry, maar dikwels neem jy nog steeds te veel koolhidrate op hierdie tipe dieet in, wat gewigsverlies stadig of geen maak. As jy op 'n hoë proteiendieet is, verbrand jou liggaam vet vir energie. Sodra jy weer koolhidrate begin inneem, gaan jou liggaam terugkeer na glukose verbrand vir energie en wat gebeur as ons te veel daarvan het? ONS WORD VET!!!

Ek hoop julle verstaan nou bietjie meer van hoe 'n hoë proteindieet werk. Ons sal later in nog meer detail daarop ingaan, maar dis sommer net kortliks vir 'n inleiding.

No comments:

Post a Comment